INHOUD

Home

Editor's Letter

TECHNOLOGY

Reinventing the tube

Keeping up with the Times

J-blogging the best of both worlds?

'n Kykie na die veranderende eenoog-koning

MXit worth its moola

Techno impaired

Mobile media: A threat?

PEOPLE

Solo journalism

What the eyes do not see, does grieve the heart

Beautiful journalism

Vrouetydskrifte + die internet = 'n blink toekoms?

Can u sms it 2 me?

Do you get your news?

Die Burger vir die burgers

The artist formerly known as the audience

THE CHANGING ROLE OF THE MEDIA

Rebuilding the Chinese wall

Politici en hul waghonde

ENVIRONMENT

Burning issue: A changing climate, a changing media

Van toeka tot nou: Die 50/50 suksesverhaal

ART

Kort aan kortverhale?

"Teater van die gedagte" se swanesang?

Gevra: 'n drukmedia Harry Potter

Fluit-fluit is die storie uit vir boeke en boekresensies?

SPORT

Wat sport van vol is, loop die pen van oor

Keeping the game alive...with "sportainment"

 

 

Wat sport van vol is, loop die mond van oor

Dok Craven het hard gepleit om die “game” weg van geld te hou. Maar wat sou hy vandag dink as hy die koerant moet oopmaak en lees die ­Vodacom Cheetahs speel teen die Vodacom Stormers op Vodacompark in die ­Voda­com Super 14. Dis duidelik: skop soos jy wil, sport is deesdae gróót geld!
Marco Botha het gaan vasstel wat die toekoms vir sportjoernalistiek inhou.

Lank, lank gelede kon ’n sportjoernalis soos Quintus van Rooyen (eintlik “van Blouen”) van Beeld ’n Noord-­Transvaler op papier ophemel totdat Dok Craven gesê het, “gee hom ’n Springbok-jersey en bôl, laat ons kyk wat maak hy.”

Daar was die sportkommentator Zandberg Jansen, wat dalk nie kon hoor nie, maar die “draadloos” sou nie dieselfde gewees het sonder sy rugby-insigte nie.

Hierdie joernaliste was vertroud met hul sport en onmiskenbaar deel van Dok Craven se amateursideale.
Gert van der Westhuizen, sportredakteur van Beeld, sê in ’n telefoongesprek met SMF, dit was die tyd toe ’n sportjoernalis “iemand was wat met sy werk getroud was, en alles geweet het van wat in sy span aangaan. Hy is baie keer as eenogig gebrandmerk, maar dit het die lesers aan die gesels gehou.”

Dit neem egter ’n enkele oproep na Francois Pienaar, deesdae voorsitter van Eerste Nasionale Bank (ENB) Wes-Kaap en nasionale hoof van ENB-borgskappe, om te besef gekommersialiseerde sport kan in ’n oogwink geldsakke se nate laat bars.

Hy sê Suid-Afrika sou tussen R6 miljard en R8 miljard se inkomste verdien het, sou hy en sy span die 2011 Rugby Wêreldbe­ker-bod vir die land kon wen. “Ons het tussen 120 000 en 150 000 besoekers voorspel. Dink net van hoeveel geld ons praat as die 400 000 besoekers wat ons vir 2010 voorspel, opdaag.”

Volgens die Australiese Buro vir Statistieke se webblad, het daardie land se ekonomie in die vierde kwartaal van 2003 met 1,4% meer gegroei as wat hulle verwag het. Die rede? Die 2003 Rugby Wêreldbeker is op Australiese gras gespeel.

Irvin Khoza, voorsitter van die 2010 Plaaslike Reëlingskomitee, voorspel dié sokkerskouspel kan meer as R40 miljard se omset in die Suid-Afrikaanse eko­nomie stort. Ander skattings is R21,3 miljard.

Hoe dit ook al sy: Jammer, Dok, maar die hop van die bal is gunstig vir die geldmakers, en sporthelde is vir sommiges net knoppies op ’n OTM. En ja, spelers staak ook deesdae. “Vir die liefde van die spel...”
Gevolglik moet ’n mens vra watter uitdagings hierdie gekommersialiseerde sport­omgewing nou én in die toekoms aan sportjoernalistiek gaan bied?

Van der Westhuizen laat weet per e-pos sportborge begin op ’n al groter sê in die drukmedia aandring. Neem die voorbeeld van die Vodacom-spanne op Vodacompark in die Vodacom Super 14 as ’n absurde, maar realistiese voorbeeld van wat ’n mens Vodacom-inisasie kan noem. “Dit maak ’n storie onleesbaar, en watter ondersteuner dink in elk geval aan sy span as die Vodacom Bulls?”

Hy sê sportowerhede probeer ook al meer om media te reguleer, dikwels omdat hulle nie borge wil afskrik nie. Joernaliste word ook van spelers af weggehou, sê hy, en word net ’n “amptelike line” gevoer deur ’n woordvoerder. “Dit maak inbreuk op persvryheid.”

’n Belangriker vraag is waarskynlik deur watter deugde ’n sportjoernalis in die toekoms gedefinieer gaan word?

Is sinergie tussen sake- en sportjoernalistiek ’n realistiese vooruitsig vir die toekoms?

Charles Naudé, groepredakteur van Sake24, dink nie so nie. In ’n telefoononderhoud sê hy: “Sakejoernaliste bemoei hulself met dinge soos die bou van stadions, kontrakte, sementskaarstes en handelsmerk-kwessies by ’n Wêreldbeker. Daar is reeds bestaande velde, soos bemarking en konstruksie, wat sakejoer­- naliste self kan hanteer. Met die groei van sportkommersialisering kan ’n klein afdeling daarvoor in sakepublikasies vir die toekoms oorweeg word.”

Mark Smit, sportredakteur van Business Day, stem saam met Naudé dat sake- en sportjoernalistiek afsonderlike velde moet wees. Hy voel egter sportsake moet sterk oorweeg word as spesialiteitsgebied in die algemene media.

Dit kan veral waardevol wees by ’n sakekoerant soos Business Day, waar hulle die gewone stories dek, en verder soek vir sake-invalshoeke, “soos Manchester United se geldsake aan die einde van hul finansiële jaar”.

Al meer media-instansies wend hulself tot sportnuusredakteurs, en Smit dink dit is die toekoms vir sportjoernalistiek. Pieter Kruger beklee hierdie pos by Beeld, hoewel hy tans meer met die produksie van sportnuus te doen het as Van der Westhuizen. “Klein begrotings maak sport­redakteurs én sportnuusredakteurs in elke nuuskantoor ongelukkig moeilik haalbaar,” sê Smit in ons telefoongesprek.

Sake-insigte is volgens Van der Westhuizen ’n noodsaak in enige joernalis se mondering en hoewel dit ’n groter rol mag speel by sportjoernalistiek in die toekoms, “moet ’n werklike goeie verslaggewer met gesag oor enigiets kan skryf: sake, sport, misdaad, politiek, en so meer.”

Vanuit hierdie perspektief meen Van der Westhuizen die Britte en Amerikaners is Suid-Afrika ver voor in die sportkantoor. Naudé sê ook koerante kan dalk nader aan die 2010 Wêreldbeker ’n spesialisspan oorweeg wat kyk na die ekonomiese impak van die toernooi op grondvlak, sakebelange en dies meer. Daar bestaan nie tans só iets in die drukmedia nie.

Voor Suid-Afrikaners in sak en as sit omdat ons (weer) agteros is vergeleke met die genoemde wêreldmoondhede, moet ’n mens net aanklop by Anton Snyman, sportnuusredakteur van die SAUK, om moed te skep, én te sien hoe sportjoerna­listiek in die toekoms gaan lyk.

Snyman meen ook sport gaan nie sommer die sakeblaaie of -bulletins haal nie, “maar indien daar sportbyeenkomste of -toernooie in ’n land aangebied word, sal ’n sportverslaggewer die ekonomiese implikasies moet kan verstaan en vertolk. Wat sake-insigte betref, moet ’n sportverslaggewer meer ’n algemene kennis as in-diepte kennis van sakeverslaggewing hê.”

Dit is hiermee in gedagte dat hy ’n 2010-span geskep het in sy sportredaksie, met joernaliste wat hulself met die Wêreldbeker en sy wyd uiteenlopende implikasies bemoei tot ná die toernooi. Hulle sal daarna deel vorm van die algemene sportredaksie, maar intussen sal Snyman joernaliste in Johannesburg, Kaapstad, Port Elizabeth en Durban hê.

Sy 2010-span se fokus is tans voorvalle wat kan lei tot ’n onsuksesvolle Wêreldbeker­toernooi. Dinge soos stakings by stadions oor lone, wat dus konstruk­siewerk vertraag, vreemdelingehaat, die buiteland se mening oor veiligheid van toeriste, en die sosio-ekonomiese impak van die toernooi, is voorbeelde hiervan.

Verder is menslike stories, soos bed-en-ontbyt-eienaars in Soweto wat by Match, die amptelike 2010 verblyf-agentskap, geregistreer is, hul kos. Snyman sê dié span sal mettertyd begin kyk na spanprofiele en ander meer sportspesifieke stories.

Hy meen ook dit is veral by uitsaaimedia waar afgeronde sportjoernaliste wat enige soort storie kan dek, onmisbaar gaan raak in die toekoms. Soos Naudé gesê het, sakeverslaggewing dek álles wat met sake te doen het, en die sportredaksie hanteer sport in die drukmedia. Uitsaaimedia is ’n ander storie.

“Omdat daar soveel minder tyd aan sport op nuusbulletins afgestaan word as wat daar spasie in ’n koerant vir sport is, is ons sport­redaksie betreklik klein, en beteken dit dat sportverslaggewers oor allerlei sportsoorte móét kan verslag doen,” sê Snyman.

Ofskoon koerante nog altyd meer “beat-gerig” was as uitsaaimedia wat sport betref, neem Snyman dus reuse treë in die ontwikkeling van sportjoernalistiek in ’n gekommersialiseerde sportwêreld met sy 2010-span.

Die skep van ’n span soos dié een van die SAUK wat oor álle aspekte van dié Wêreldbeker verslag doen, en wat daarna weer deel van die algemene sportredaksie word, skep ’n nuwe soort sportjoernalis. Een wat Smit se ideaal van ’n sake/sportjoernalis kan verwesenlik. “A jack of all trades, and master of some.”
’n Kennis van sport en ’n liefde daarvoor alleen gaan nie meer die weg kan baan vir ’n aspirant-sportjoernalis nie.

“Van Blouen” sou vandag soos ’n leek in die Blou Bul Maatskappy se raadsaal voel, want Naas Botha se skopskoen sal aan rande en nie aan punte gemeet word nie. Vodacom sou tot dié Bul se salaris bydra.
Soos Snyman sê: “Die sportjoernalis van die toekoms is ’n veelsydige verslaggewer met ’n breë kennis van sport, ’n intense belangstelling in nuus en iemand wat nie sal skroom om skouer aan die wiel te sit nie.” Iemand wat ook “deeglik bewus is van sportpolitiek op alle vlakke.”

Waarop álle Suid-Afrikaanse sportliefhebbers kan sê: “Sela. Amen!”